Sunday, 19 February 2012

Week 20 Februarie tot 26 Februarie 2012

Maandag 20.2.12
Bobotie
Rys
Pampoenkoekies
Spinasie en feta kaas
Mengslaai

Dinsdag 21.2.12
Frikkadelle
Rys
Brokkoli
Wortelslaai
Suurlemoen kaaskoek

Woensdag 22.2.12
Vis
Rys
Ertjies
Koolslaai

Donderdag 23.2.12
Botterskorsiesop met camembert
Hoendersosaties
Rys

Vrydag 24.2.12
Smelt in die mond biefstuk
Rys
Aartappel, uie en roosmaryn
Groenbone
Beetslaai

Saterdag 25.2.12
Biltong, growwe maaskaas en groen soetrissie repe op blaarslaai bed

Braai hoendertjies
Koringslaai

Sondag 26.2.12
Heel hoender
Rys
Spinasie met aartappel en uie
Eiervrugslaai


Sunday, 12 February 2012

Bobotie

2 uie, fyn gekap
30ml botter
25ml matige kerriepoeier
1 groot tamatie, gerasper
10ml fyn appelkooskonfyt
250ml water
10ml sout
6 heel amandels
2 eiers
vars lemoen/suurlemoen blare

Voorverhit oond tot 180 grade C
Soteer ui in botter tot sag.
Voeg kerriepoeier by en braai 'n rukkie saam.
Voeg tamatie, konfyt, water en sout by.  Verhit tot kookpunt.
Voeg vleis by, roer met vurk tot gemeng en laat 5 minute kook.
Week brood in melk.  Druk melk uit brood (hou melk) en maak brood fyn.
Voeg brood en amandels by vleismengsel, meng en skep in gesmeerde bakskottel
Klits eiers en melk saam en gooi oor vleismengsel.
Vou blare keelvormig en druk in vleismengsel.
Bak 30 minute in oond

Somerslaai

1 blik 410g lensies, gedreineer
1 blik kekerertjies, gedreineer
1 rooi ui, gekap
10 dwerg tamaties, gehalveer
1 rooi soetrissie, ontpit en gekap
1 blik 410g heelpitmielies, gedreineer
2 avokado pere, geskil en in blokkies gesny
1 mango, geskil en in blokkies gesny
hand vol vars koljanderblare, grofgekap
hand vol roketblare, geskeur

Sous
5ml gekapte vars knoffel
5ml fyngekapte vars brandrissie
25ml suurlemoensap
60ml olyfolie

Meng al die slaaibestanddele saam.  Meng sous bestanddele saam.  Giet oor slaai en geniet


Melkkos

100ml sago
1 liter melk
30ml botter
2 eiers, geskei
75ml volkoringmeel
20ml vlapoeier
Knippie sout
125ml water
Kaneel na smaak

Meng 1 koppie melk met sago.
Kook vir twee en 'n halwe minuut op 100% krag in mikrogolf oond
Roer goed
Voeg die res van die melk en botter by die sago mengsel
Mikrogolf vir 5 minute oop op 100% krag
Roer gereeld
Klits eiergele goed en meng met die volkoringmeel, vlapoeier, sout en water (pasop vir klonte)
Voeg dit by die sago mengsel en roer goed.
Mikrogolf vir 6 minute op 100% krag - roer na 3 minute
Haal uit en roer goed deur.
Klits eierwitte styf en vou by die sago mengsel in.  Strooi kaneel oor

Perske meringues

1 blik 800g perske helftes
100g soet beskuitjies, gekrummel
100g amandels gekap
4 groot eierwitte
200g strooisuiker
3ml sterk kitskoffie korrels, gement met 3ml kookwater

Voorverhit oond tot 220 grade C
Pak perskehelftes in oondvaste bak.
Meng beskuitjie krummels en amandels
Skep lepelsvol in elke perske helfte
Klits eierwitte styf.  Klits strooisuiker geleidelik by sodat dit 'n stywe meringue vorm.
Klits koffie pasta by
Skep of spuit meringue bo-op elke perskehelfte. 
Bak sowat 5 - 10 minute, tot meringue begin verbruin.
Bedien saam met vanielje roomys of vla

Groente poffertjies

375ml koekmeelblom
10ml bakpoeier
5ml sout
2 ekstra groot eiers
125ml melk
500ml bekapte groenbone, au dent gekook
1 klein ui, gekap
1 tamatie, ontvel en in blokkies gesny
basiliekruid
rooipeper
olie om in te braai

Klits eiers en melk saam.
 Voeg gesifte droe bestanddele by en meng goed.
Voeg groenbone, ui en tamatie by.  Geur met basiliekruid en rooi peper.
Meng goed
Kry olie warm genoeg om poffertjies in te braai.
Dreineer poffers op handdoek papier
Lewer omtrent 17 poffers

Hoender met heuning en suurlemoen

125ml botter
8 porsies hoender
4 takkies vars tiemie
6 E (90 ml) pietersielie gekap
150ml heuning
sap van 2 suurlemoene

Smelt botter in braaipan met deksel.  Braai hoender in pan tot goudbruin.
Bedek en laat 30 minute prut. Draai een keer om.
Voeg tiemie, pietersielie, heuning, suurlemoensap en peper na smaak by.
Vermeerder hitte en bedruip hoender met sappe.
Kook 5 minute saam.
Verwyder hoender en kook sappe oor hoe hitte tot verminder.
Skep oor hoender en garneer met suurlemoenskyfies en pietersielie takkies

Beesvleis roerbraai

30ml olyfolie
1 ui, repies gesny
1 kg beesvleis repies
200g groenbone, in lengte gehalveer
1 rooi soetrissie, in repies gesny
10ml fyn komyn
10ml fyn koljander
swart peper
150ml sojasous
150ml goue stroop

Verhit olie in pan, braai ui tot deurskynend.  Voeg vleisrepies by.  Braai teen hoe hitte vir ongeveer 4 minute.
Voeg groenbone en soetrissie by.
Braai 3 minute tot groente begin gaar word.
Voeg geurmiddels by.
Voeg sojasous en gouestroop by.
Verhit tot kookpunt.  Kook saam vir 1 minuut of tot sous begin dik raak en groente gaar maar tog bros

Wit bone slaai

Slaaisous
60ml groente aftreksel
125ml kookwater
30ml olyfolie
1 gekneusde knoffelhuisie
30ml suurlemoensap
15ml heuning / suiker
5ml gedroogde origanum
varsgemaalde swartpeper na smaak

Meng al die bestanddele en geur na smaak

Slaai


410g klein witboontjies, gedreineer
4 sprietuie, in dun ringetjies gesny
halwe rooi of groen soetrissie, ontpit en gekap
1 seldery stingel, in skyfies gesny
100ml grof gekapte pietersielie
2 ryp tamaties, geskil en in blokkies gesny
1 skyf feta kaas, in blokkies gesny
12 swart olywe, gehalveer en ontpit

Plaas die slaai bestanddele in slaaibak, giet die helfte van die slaaisous oor en meng deur.
Skep uit op slaaibord.  Bedien met ekstra slaaisous apart.
Hou goed oornag in yskas



Vis

600g vis fillette
Grasuie of pietersielie, opgesny
125ml melk
125ml room  (kan met melk vervang word)
Pakkie wit uiesop
2 E suurlemoensap
1 blik aspersies of sampioene

Voorverhit oond tot 180 grade C
Pak vis in oondvaste bak en strooi grasuie/pietersielie bo-oor
Pak aspersies of sampioene op
Meng melk, room, soppoeier en suurlemoensap saam
Giet oor vis
Bak totdat vis goed gaar is.  Omtrent 30 minute

Patatwiele

1 pak Ready Dough
4 soetpatats, geskil, gekook en fyngemaak
1 x 250ml room
1 koppie suiker
kaneel

Voorverhit oond tot 180 grade C
Rol die deeg oop en smeer die fyngemaakte patats oor die deeg.  Strooi bietjie kaneelsuiker oor.  Ek strooi bruinsuiker oor omdat my gesin  nie van kaneel hou nie.
Rol deeg toe en sny dan vingerbreed wielietjies.  Daar behoort 9 tot 12 wiele te wees.
Pak in oondvaste bak
Meng room en koppie suiker.  Gooi oor wiele.  Strooi kaneel oor.
Bak vir 45 minute tot goudbruin

Worspotjie

30ml olyfolie
2 uie, grofgekap
700g boerewors, in dikkerige ringe gesny
200g chorizo worsies, in dikkerigeringe gesny
1 blik bier 340ml
500g botterskorsie, in blokkies gesny
1 x 60g bruin uiesoppoeier met 250ml water gemeng
Sout en peper na smaak

Verhit olie in swaarboompot, braai ui tot deurskynend en voeg dan altwee wors soorte by
Braai verder tot wors begin bruin word
Giet bier oor  Pak botterskorsie bo-op
Prut ongeveer 20 minute tot botterskorsie gaar is
Voeg nog water by indien nodig
Voeg nou gemengde soppoeier by, roer liggies en prut sowat 10 minute tot sous dik word. 
Geur na smaak met sout en peper

17.2.12 tot 19.2.12

VRYDAG 17.2.12
Beeskookvleis
Rys
Blomkool
Ertjies
Wortelslaai

SATERDAG 18.2.12
Melkkos

Braai
Somerslaai

SONDAG 19.2.12
Bobotie
Rys
Spinasie en fetakaas
Oorskietslaaie van 17 en 18e

Spyskaart 13 tot 16 Februarie 2012

MAANDAG 13.2.12
Worspotjie
Rys
Patatwiele
Koolslaai

DINSDAG 14.2.12
Vis
Kapokaartappels
Pampoenkoekies
Wit bone slaai

WOENSDAG 15.2.12
Beesvleis roerbraai
Rys
Boontjies
Gems
Mengslaai

DONDERDAG 16.2.12
Hoender met suurlemoen en heuning
Rys
Groente poffers
Perske meringues

Sunday, 5 February 2012

Kuier

Ek het gisteraand die fliek Julie & Julia onder oe gehad.
Dit is ook my man se idee dat ek ons spyskaarte en resepte moet bekendstel aan ander.  Hy vertel vir almal dat hy soos 'n koning eet.  Hy is regtig so 'n klein etertjie, maar gelukkig is ons seun Eric, 27, nog in die huis.  Hy eet baie gesond en 'n goeie hoeveelheid.  Hy pak selfs van die aandete in vir werk die volgende dag omdat hy nie graag brood eet nie.
Maar net soos in die fliek eet my liewe man ook gereeld 'n 'Tums' omdat hy te geil ge eet het.
Die spyskaart makery is al meer as ses jaar deel van my lewe.  Ek het 'n huishulp gehad, Josephine, wat baie veelsydig was.  Sy kon uit 'n resepte boek kook.  Daarom het ek spyskaarte gemaak, die regte bestanddele gekoop en sy het die kos voorberei. 
Toe is ons seun Robert in 'n frats ongeluk dood!!!!!
Josephine raak toe swanger op 40 en kon nie meer die pas volhou nie.  Toe bedank sy.
Ek moes toe noodgedwonge verder kook!  Ek was nog nooit 'n goeie kok nie, maar met al die hartseer in my lyf was kook 'n baie goeie ontvlugtings metode.
Josephine is nou terug by my vir 3 dae per week.  Die werk is dus nou te veel dat sy ook nog kan kook.
Daarom is ek nou die kok, en 'n goeie een ook volgens my man en seun.

Koringslaai

250ml rou stampkoring
sout en varsgemaalde swartpeper
Klein ui, baie fyn gekap
2 ryp tamaties, in klein blokkies gesny
1 groen soetrissie, ontpit en gekap
75ml sultanas
halwe klein pynappel, geskil en in blokkies gesny

Slaaisous
45ml suiker
30ml korrelmosterd
5ml matige kerriepoeier
30ml wit asyn
250ml mayonaise
30ml melk

Kook koring in 3k water met knippie sout vir 30 - 40 minute tot sag.  Dreineer deeglik, spoel met koue water af en laat afkoel.
Plaas ui in bakkie.  Giet kookwater oor en laat vir 'n paar minute staan.  Dreineer deeglik.
Voeg ui en ander slaaibestanddele by koring en geur na smaak.

Slaaisous
Klits al die bestanddele saam en geur na smaak.  Bedien saam met slaai

Spinasie quiche

3 snye bruin brood, gekrummel
1 ui, opgekap en gebraai
Meng ui saam met krummels
2 k gekookte, fyngemaakte spinasie
6 sampioene, in skywe gesny
1 ui, opgekap en gebraai
250g pakkie snipperspek
1 pakkie bruin uiesoppoeier
125ml gerasperde cheddar kaas
125ml fyn maaskaas
3 eiers
Feta kaas, gekrummel

Voorverhit oond tot 180 grade C
Sit broodkrummels en gebraaide ui, wat gemeng is, onder in quiche bak as kors.
Braai sampioene, spek en uie saam.
Meng soppoeier, spinasie, cheddarkaas, maaskaas en eiers saam.
Skep in broodkrummelkors.
Krummel feta bo-oor en bak 30 minute tot lig bruin en gestol

Gebakte bone

12.5ml olie
1 groen soetrissie, gekap
1 ui, grof gekap
5ml kerrie poeier
5ml druiwe asyn
5ml suiker
1 tamatie, ontvel en grof gekap
410g  gebakte bone in tamatie sous
1 piesang, in skyfies gesny
sout en peper na smaak

Verhit olie in pan en soteer ui en soetrissie tot sag.
Voeg geurmiddels by en roerbraai vir minuut
Voeg tamatie en gebakte bone by en prut totdat tamatie goed gaar is.
Voeg piesang by.
Geur na smaak met sout en peper
Verhit tot goed deurwarm en bedien saam met roosterbrood

Pot vol groente

Kleurryk en baie lekker

30ml olyfolie
2 rooi uie, geskil en in kwarte gesny
200g jong groenbone, koppe verwyder
1 rooi soetrissie
1 groen soetrissie
250g knopies sampioene
250g botter skorsie blokkies, effens sag gekook
8 klein uitjies, effens saggekook
5ml sout
5ml growwe swartpeper
15ml heuning
10ml vars gekapte roosmaryn
15ml tuisgemaakte dukkah (resep volg)

Braai rooi uie, groenbone, soetrissies en sampioene vir 'n paar minute in olie tot gaar, maar ferm.
Voeg botterskorsie blokkies en uitjies by.
Geur met sout en peper.
Voeg heuning en gekapte roosmaryn by.  Braai vir verdere minuut of twee
Strooi dukkah oor (opsioneel)

Tuisgemaakte dukkah
500ml haselneute
375ml sesame saad
90ml koljandersaad
90ml komynsaad
15ml swart peperkorrels
15ml growwe sout

Strooi haselneute in vlak bakplaat en rooster 20 minute by 180 grade C in oond.
Keer dan in 'n skoon droe doek uit,  Vryf hard sodat die doppies van die neute afkom.  Hou eenkant.
(Ek het my besimpeld gevryf en nie die doppies goed afgekry nie.  Dalk het die neute te koud geword of ek nie hard genoeg gevryf nie)
Verhit 'n pan op die stoof en strooi sesam-, komyn- en koljandersaad daarin.
Skud die pan met die saad oor die hitte totdat geure begin ontsnap en die sade goudbruin word.
Verwyder van hitte en keer dadelik uit pan sodat sade nie verder braai nie.
Meng nou die neute, sade, sout en peper in 'n voedselverwerker en maal dit fyn.
Bêre in 'n lugdigte houer in die yskas.

'N bate in jou huis.  Kan enige slaai op soosh met dukkah





Oondgebraaide hoender

180ml koekmeelblom
5ml rooipeper
15ml paprika
180ml droe broodkrummels
125ml gerasperde parmesaankaas
sout en varsgemaalde swartpeper
8 hoenderstukke of heel hoender in stukke gemaak
60ml avokado olie

Voorverhit oond tot 180 grade C
Meng droe bestanddele en kaas in 'n groot mengbak en geur goed.
Bestryk hoenderstukke met olie en rol dit in die meelmengsel
Plaas op kleefwerende bakplaat en bestryk met die oorblywende olie
Bak vir 40 minute tot dwarsdeur gaar en goedkleurig

Verskriklik lekker

Sago poeding

100ml sago
800ml melk
4 ekstra groot eiers
75ml suiker
2ml sout
10ml vanielje geursel

Laat week sago minstens 'n uur in 200 ml melk.
Verhit oond tot 150 grade C
Smeer 2.8 liter bak met botter
Bring orige melk tot kookpunt en voeg geweekte sago daarby.
Kook 5 minute lank nadat die mengsel weer begin kook het en roer gedurig.
Klits die eiers en suiker saam tot lig. 
Voeg sout en vanielje by.
Voeg die sago mengsel stadig by die eiermengsel.
Meng goed deur en gooi in gesmeerde oondbak.
Plaas die oondbak in 'n oondpan wat halfpad met kookwater gevul is.
Bak ongeveer 45 minute of totdat die mengsel gestol is.
Dien op saam met goue stroop of aarbeikonfyt

Groenbone Kasserol

1 middelslag eiervrug, in ringe gesny
50ml olie
2 uie, grof gekap
2 groen soetrissies, grof gekap
5 knoffelhuisies, gekneus
1kg jong groenbone, stingels verwyder
5 tamaties, ontvel en grof gekap
10 ml droe origanum
4 lourierblare
20ml bruinsuiker
sout en peper na smaak
50g fetakaas, in blokkies gesny

Sprinkel sout oor eiervrugskywe, plaas in vergiettes.  Laat 30 minute staan.  Druk droog met handdoekpapier.
Verhit helfte van olie en soteer ui, soetrissie en knoffel tot sag.
Skep uit.
Gebruik ander helfte van olie, braai eiervrugskywe daarin tot bruin.
Voeg uiemengsel, groenbone, tamaties, geurmiddels en bietjie water by.  Bedek en prut stadig tot groenbone sag is. 
Roer af en toe.
Verwyder lourierblaar.
Skep in oondskottel en rond af met fetakaas blokkies

Jambalaya Hoender

15ml olie
4 strepies swoedlose spek (vries die res van die pakkie)
1 opgekapte ui
2 seldery stokkies, opgekap
250ml hoenderekstrak
Sout en peper na smaak
3ml rooi peper
1 lourierblaa
1 groen soetrissie, opgekap
410g opgekapte tamaties
100g ham, opgekap
400g hoender, gekook en opgekap
1 E gekapte pietersielie

Braai spek tot bros in olie. Dreineer
Braai uie tot sag, voeg seldery by en braai nog 'n minuut.
Voeg soetrissie en tamaties  by.  Prut vir 5 minute.
Voeg hoenderekstrak by en prut 10 minute.
Voeg ham, spek  en hoender by.  Prut tot deurwarm en dien op saam met rys

Spyskaart 6 tot 12 Februarie 2012

Maandag 6 Feb
Kerrie maalvleis
Rys
Brokkolli
Pampoenkoekies
Beetslaai

Dinsdag 7 Feb
Jambalaya hoender
Rys
Groenbone
Wortelslaai

Woensdag 8 Feb
Skelvis
Kapokaartappels
Blomkool
Soetrissie roerbraai
Tamaties, roket en olywe

Donderdag 9 Feb
Bees kookvleis
Rys
Groenbone kasserol
Sago poeding

Vrydag 10 Feb
Oondgebraaide hoender
Rys
Pot vol groente
Beetslaai

Saterdag 11 Feb
Gebakte bone dis
Roosterbrood

Braai
Koringslaai

Sondag 12 Feb
Spinasie quiche
Rys
Mengslaai

Friday, 3 February 2012

terugvoer

Die beesstert was verskriklik lekker    Ja, dit is 'n duur gereg maar deur en deur die moeite werd.

Die vegetariese kasserol was glad nie lekker.  Mag ek nooit so honger word dat dit vir my lekker is nie.

Lam en patat bredie was ook baie lekker

Die dronk hoender het toe maar 'n gewone hoender geword want ek het baie laat tuis gekom

Die botterskorsie met parmesaam het nie gebeur nie,  dus oorstaan

Vanaand is dit roket sop  Dit is klaar gemaak,  Ek gaan gou die vissies bak  Die brood is gekoop

Lekker eet maats

Vinnige eenbakete

30 ml botter
250g repies spekvleis
250g uie, in ringe gesny
250g knopies sampioene skyfies gesny
500g aartappels, gekook en in blokkies gesny
125ml hoenderaftreksel
5ml droe salie
sout en peper na smaak
4 ekstra groot eiers
12,5ml gekapte pietersielie

Gebruik groterige pan met deksel.  Verhit botter.
Verwyder swoerd van spek.  Soteer saam met uie in botter tot sag.
Voeg sampioene by en soteer tot effens bruin.
Voeg aartappelblokkies by en soteer vir nog 'n minuut.
Voeg hoenderaftreksel, salie, sout en peper by
Laat minuut lank prut.
Maak 4 holtes in die mengsel en breek 'n eier in elke holte.
Plaas deksel op pan, verlaag hitte totdat eiers gaar is.
Strooi pietersielie oor en dien op





Sunday, 29 January 2012

Eenbak ete

30ml botter
250g spekvleis repies
250g uie, in ringe gesny

Soet suur eiervrug

125ml olyfolie
6 knoffelhuisies, gekneus
125ml wit asyn
60ml suiker
Sout en peper na smaak
1E vars gekapte basiliekruid of 1t droe basiliekruid
2 groot eiervrugte

Verhit die olie in 'n swaarboomkastrol.
Soteer die knoffel tot sag
Voeg die asyn en suiker by.  Prut vir 'n paar minute totdat die suiker opgelos is.
Voeg geurmiddels en basiliekruid by.
Sny die kant van die eiervrugte af.  Sny dan in 5mm dik skywe in lengte.  Verhit 'n riffelpan en giet olie in.  Rooster die eiervrugskywe aan albei kante tot effens bruin en sag. 
Plaas dit in 'n opdienbak en gooi sous oor.
Bedien warm of koud

Spinasie slaai

200ml bruin of groen lensies
1 medium tamatie, gekap
200g vars spinasie, stele verwyder en grof gekap
Feta kaas om bo oor te sprinkel

Kook lensies tot sag, dreineer en laat afkoel

Slaaisous
80ml olyfolie
60ml suurlemoensap
60ml suiker
7ml fyn komyn
Sout en peper na smaak

Meng al die bestanddele saam. 

Meng die sous met die spinasie. 
Voeg die helfte van die lensies by en laat manineer vir 30 minute
Skep in 'n slaaibak, skep tamaties en oorblywende lensies bo oor
Sprinkel fetakaas oor

Sampioen en roket sop

100g botter
500g knopies sampioene
80g vars roket
80ml koekmeelblom
750ml hoenderaftreksel
1 E vars suurlemoensap
1 k melk
125ml vars room
Sout en peper na smaak

Smelt botter in groot swaarboomkastrol.  Kap sampioene en roket grof en braai liggies vir omtrent 4 minute
Voeg koekmeel by en braai vir nog 'n paar minute
Voeg die hoenderaftreksel en suurlemoensap by.  Bring tot kookpunt.
Verlaag hitte, voeg melk by en prut vir omtrent 15 minute
Maak die helfte van die mengsel glad in 'n voedselverwerker.  Giet terug in die kastrol met oorblywende sop.
Gooi room en geurmiddels by en verhit weer die sop voor opdiening

Botterskorsie met room en parmesaan kaas

2 middelslag botterskorsies
3E gesmelte botter
2 vet knoffelhuisies, gekap
vars salie blare
250ml dik room
60g gerasperde parmesaam kaas

Kook botterskorsie tot byna gaar (20 minute)
Dreineer, sny en skraap die pitte uit
Sit die botterskorsie helftes in oondpan met oopkant na bo.
Maak met 'n skerp mes insnydings kruis en dwars in 'vleis' van botterskorsie
Sit 'n klontjie botter in elke helfte, sprinkel salie blare en knoffel oor.
Giet die room in die holtes en sprinkel die kaas oor.
Bak vir 20 tot 30 minute tot sag en goudbruin

Dronk hoender

Heel hoender in stukke gemaak
3 E suurlemoensap
2 E olyfolie
200ml droe sjerrie
2 fyngemaakte knoffelhuisies
1 t sout
paprika

Meng al die bestanddele buiten die paprika.  Marineer hoender hierin vir 3 ure.  Draai gereeld om.
Sprinkel paprika oor en bak oop in oond van 180 grade C vir 60 minute


Lam en patat bredie

2 E kookolie
750g lam stowevleis
1 middelslag ui, gekap
2K beesvleisaftreksel
2 middelslag tamaties, geskil en gekap
2 E vars gemengde kruie of 1t droe gemengde kruie
Sout en varsgemaalde peper na smaak
2 middelslag patats, geskil en in dik skywe gesny
200g groenbone, gehalveer
1 E koekmeelblom om sous mee te verdik

Verhit olie in swaarboomkastrol en braai lamsvleis tot goudbruin.
Voeg ui by en braai tot sag.
Voeg die vleisaftreksel, tamaties, kruie en geurmiddels by.
Plaas deksel op en laat prut vir 'n uur.
Voeg patats en groenbone by en laat prut vir nog 15 minute of totdat vleis sag is. 
Verdik sous met koekmeelblom wat in water opgelos is.
Laat kook vir 'n paar minute sodat sous kan verdik

Vegetariese kasserol

1 blomkool
1 groen soetrissie
4 seldery stingels
250g kekererte (chick peas)
10ml volgraan meel
5ml droe tiemie
5ml gekapte knoffel
5ml gedroogde pietersielie
5ml soja sous

Voorverhit oond tot 180 grade C
Sny groente op en stoom tot au dent
Voeg kekererte by
Meng alle ander bestanddele saam
Gooi oor groente en bak 30 tot 40 minute tot redelike kors vorm

mielietert

4 eiers
1 koppie bruismeel
4 E suiker
4 E gesmelte botter
1 t vanielje geursel
2 blikke room mielies

Voorverhit oond tot 180 grade C
Meng al die bestanddele goed saam met elektriese klitse
Giet in oondbak en bak 1 uur tot goudbruin

Hierdie resep is vers te veel vir ons 3   Ek deel die resep in 3   Dit vries goed

Beesstert

2 tot 3 beessterte
1 botteltjie griekse slaaisous  nie die roomsoort nie
1 pakkie bruin uiesoppoeier
4 wortels
10 klein aartappels

Sit beessterte in groot ysterpot
Meng slaaisous en soppoeier en gooi oor beessterte
Laat stadig teen 120 C vir 8 ure bak
Voeg wortels en aartappels die laaste 2 ure by

week 30 Januarie tot 5 Februarie 2012

Maandag 30 Januarie 2012
Heerlike beesstert
Rys
Mielietert
Koolslaai

Dinsdag 31 Januarie 2012
Wors
Rys
Tamatieslaai

Woensdag 1 Februarie 2012
Lams en patat bredie
Rys
Beetslaai

Donderdag 2 Februarie 2012
Dronk hoender
Rys
Gebakte botterskorsie met room en parmesaan kaas
Ertjies
Mengslaai

Vrydag 3 Februarie 2012
Sampioen en roket sop
Vis porsies
Brood

Saterdag 4 Februarie 2012
Middagete:  Vinnige eenbak ete

Aand:   Braai biefstuk
            Soetsuureiervrug
            Pap

Sondag 5 Februarie 2012
Hoenderpastei in die vrieskas
Rys
Spinasie slaai




Laaste week van Januarie 2012

Hierdie week het ek nie al die kosse berei nie, dus staan hulle bietjie oor    Ek het wel 2 baie lekker koeke gebak omdat my kinders van Krugersdorp kom kuier het.  Die een was 3 meringue lae met 'n heerlike sjokolade vulsel met frambose op  Bo oor het ons roosblare gestrooi en dit was baie lekker    Die ander een was 'n sjokolade koek met coke in die beslag sowel as in die versiersuiker.
Hierdie week is dit die kleinstekies groep by my en vir hulle gaan ek 'n beet, wortelkoek bak omdat ek beet en wortels in die tuin het.  Ek hou daarvan om my tuin ten volle of tot die maksimum te benut 
Lekker kook en eet hierdie week liewe vriendinne

Sunday, 22 January 2012

Sondag 22 Januarie

Kommentaar oor verlede week se resepte:

Groenbone met eier suursous
My boontjies was net 250g.  Toe halveer ek die sous maar behou die 1 hardgekookte eier.  Dit was baie lekkerder as in die verlede toe ek 750g booontjies gebruik het.  Ons is net 3 wat eet, dus bly daar altyd oor.  Hierdie keer was daar niks vir Eric om in te pak vir werk die volgende dag.

Potgebraaide skaapboud
Dit is 'n duur dis maar was verskriklik lekker.

Koue koejawel nagereg
Dit was baie lekker maar eks seker dit sal ook goed werk met skywe ingelegde perskes.

Gevulde skorsies
Ek het net 3 skorsies (6 helftes) gebruik.  Die vulsel was eintlik net reg.  Bietjie oor gehad om bo-oor te strooi.  Mooi gelyk nadat gebak.

Vakansieslaai
Ek het dit 'n paar dae voor die tyd berei, was dus heerlik koel.  Die sous se byt is te erg.  Ek sal in die toekoms net 5ml kerriepoeier ingooi.

Geniet jul bak en brou hierdie week.   Dankie ons het kos om te berei.  Ook dankie dat ons huismense het om te eet.

Wit bone slaai

4 persone

SLAAISOUS
60ml groente aftreksel
125ml kookwater
30ml olyfolie
1 knoffelhuisie, gekneus
30ml suurlemoensap
15ml heuning of suiker
5ml gedroogde origanum
sout en peper na smaak

SLAAI
1 x 410g blik klein witboontjies
4 sprietuie, in dun ringetjies gesny
halwe groen of rooi soetrissie, ontpit en gekap
1 selderystingel in skywe gesny
100ml gekapte pietersielie
2 ryp tamaties, ontvel en in blokkies gesny
1 skyf fetakaas, in blokkies gesny
12 swart olywe, gehalveer en ontpit.

Meng al die slaaisous bestanddele saam en geur na smaak.
Plaas al die slaaibesstanddele in 'n mengbak, giet die helfte van die slaaisous oor en meng deur.
Bedien die ander helfte van die slaaisous apart saam met slaai.
Kan vorige dag berei word.




Bessie joghurt nagereg

250g vars of bevrore bessies
100ml bessie- of appelsap
2.5ml mielieblom
2.5ml vanieljegeursel
500ml aarbei- of bessie gegeurde joghurt
1 x 385g kondensmelk
1 rolkoek in skywe gesny
vars kruisement blare

Plaas helfte van die vrugte met vrugtesap in 'n kastrol.  Bring oor matige hitte tot kookpunt.  Druk die bessies fyner.
Meng die mielieblom met bietjie koue water tot pasta, roer by vloeistof tot verdik.  Prut 'n paar minute.
Roer vanieljegeursel by.  Haal sous van hitte af en laat afkoel.
Meng joghurt met die kondensmelk.
Pak res van vrugte en joghurtmengsel in lae met koekskywe in poedingbak of individuele glase.
Plaas in yskas tot gestol en skep afgekoelde vrugtesous bo-op.
Garneer met kruisement

Botterskorsie

1 middelslag ongeskilde botterskorsie, in lengte halveer, pitte verwyder.
1 pakkie bruin uiesoppoeier
250ml room.

Voorverhit oond tot 180 grade C
Sny kepe in skorsie sodat sous maklik kan intrek.
Plaas in platterige oondbak.
Meng uiesoppoeier en room.  Giet oor.
Bak vir ongeveer 30 minute, tot skorsie sag is.

Heerlik saam met braaivleis








Portugese eiers

6 - 8 persone

8 eiers
1 blik 425g sardyne in tamatiesous
50ml fyngekapte pietersielie
12,5ml suurlemoensap
12,5ml mayonaise
knippie gemengde kruie
sout en peper na smaak
4 groot tamaties
200ml Cheddar kaas, fyn gerasper

Kook eiers hard, dop af en sny middeldeur.
Verwyder eiergele, maak fyn.
Voeg sardyne by, meng met 'n vurk om pasta te vorm.
Voeg pietersielie, suurlemoensap en mayonaise by en geur met gemengde kruie en sout en peper.
Skep die mengsel in die eierwithelftes.
Sny die tamaties in dikkerige skywe en plaas op bakplaat.
Plaas 'n eierhelfte op elke tamatieskyf en sprinkel kaas bo-oor.
Skakel roosterelement aan en rooster totdat kaas gesmelt het.
Dien dadelik op saam met suurlemoenwiggies

Koperpennie wortelslaai

10 persone
Maak 2 dae voor benodig

1kg wortels, in dun skywe gesny
1 groen soetrissie, ontpit en in repe gesny
2 middelslag uie, in ringe gesny
1 pakkie tamatiesop
250ml water
sout en peper na smaak
200ml wit asyn
125ml kookolie
250ml suiker
7ml mosterdpoeier
10ml woscestershire sous

Kook wortels tot halfgaar, dreineer en laat goed koud word.  Rangskik wortels, soetrissierepe en uieringe in lae in 'n groot bak met deksel wat lugdig kan seel.
Meng die res van die bestanddele,erhit tot kookpunt, roer aanhoudend en kook 2 minute saam.
Gooi warm oor die slaai en laat dit met behulp van 'n tafelmes in die middel en langs die kante van die slaai goed inloop.
Laat afkoel, sit deksel op en marineer vir 2 dae in koelkas voor opdiening.

Gebakte eiervrug

6 persone

2 eiervrugte, in skywe gesny
2 uie, in ringe gesny
3 knoffelhuisies, fyn gekap
3 groot tamaties, ontvel en grof gekap
knippie suiker
3ml origanum
sout en peper
37,5ml botter
50ml koekmeelblom
500ml melk
37,5ml gekapte pietersielie
droe broodkrummels om bo-op te strooi

Sprinkel sout oor eiervrugskywe, laat 30minute in vergiettes staan.  Druk skywe droog met handdoekpapier en bak in olie tot ligbruin.  Dreineer op handdoekpapier.
Voorverhit oond tot 180 grade C.
Soteer ui en knoffelhuisies in pan tot sag. Voeg olie by indien nodig.  Skep uit en hou eenkant.
Plaas tamaties, suiker, origanum en sout en peper na smaak in pan en prut tot moes.
Maak witsous met botter, koekmeelblom en melk.  Geur na smaak met sout en peper en voeg pietersielie by.
Skep die tamatiemoes onder in die tertbord en pak die eiervrugskywe bo-op.  Sprinkel uie oor en skep witsous bo-op.  Sprinkel broodkrummels oor.  Bak ongeveer 30 minute lank tot bo kors verbruin.


Saturday, 21 January 2012

Smullekker vis

4 persone

600g vis fillette
Grasuie of pietersielie, opgesny
125ml melk
125ml room (kan deur melk vervang word)
Pakkie wit uiesoppoeier
2 E suurlemoensap
Aspersies of sampioene (opsioneel)

Verhit oond tot 180 grade C.
Pak vis (velle afgetrek) in oondvaste bak en strooi grasuie/pietersielie bo-oor.
Indien aspersies of sampioene gebruik word, versprei egalig oor vis.
Meng melk/room, soppoeier en suurlemoensap.  Gooi bo-oor vis.
Bak vir ongeveer 40 minute of tot vis maklik vlok

Frikkadelle

5 persone

1kg maalvleis
2 pakkies bruin uiesoppoeier
400ml natuurlike, vetvrye joghurt

Verhit oond tot 180 grade C
Meng die drie bestanddele goed saam.  Vorm frikkadelle.
Sit 'n bietjie water in oondbak.  Plaas frikkadelle in water.
Sit bak se deksel op en bak 40 minute.
Haal deksel af en bak verdere 5 minute.

Spinasie en aartappel gereg


6 persone

3 tot 4 aartappels, geskil
60g snipper spekvleis
2 uie, fyn gekap
3 groot tamaties, ontvel en gekap
sout, peper en neutmuskaat na smaak
2 bossies vars spinasie, harde stingels verwyder en gekook *
250ml suurroom
2 eiers
12,5ml koekmeelblom
250ml gerasperde Cheddar kaas

Voorverhit oond tot 180 grade C.
Kook aartappels sag en maak fyn.
Braai spekvleis in pan tot bros.
Voeg uie by en soteer tot sag. 
Voeg tamaties by en geur na smaak.
Laat prut tot dikkerige sous.
Dreineer spinasie, maak goed fyn.
Voeg 150ml van suurroom by en geur na smaak.
Klits eiers, orige suurroom en koekmeelblom saam.
Maak fyn aartappels gelyk onderin 2,5 liter oondvaste bak.  Skep die tamatie mengsel oor en versprei egalig.  Sprinkel die kaas oor.
Plaas spinasie mengsel bo-op en maak gelyk.
Giet eiermengsel versigtig oor en bak ongeveer 40 minute of totdat die eiermengsel gestol is.

*Omdat ek spinasie in die tuin het, het ek 'n bossie spinasie in die winkel geweeg.  Dis ongeveer 300g


Ghoelash

1kg beesvleisblokkies
100ml olie
2 uie, in ringe gesny
6 stingeluie, in ringe gesny
1groen, rooi en geel soetrissie in repe gesny
250g sampioene, in skywe gesny
2 beesvleisaftrekselblokkies
500ml rooi wyn, verhit
2 x 65g elk, tamatiepasta
60 ml blatjang
2 lourierblare
2ml droe roosmaryn
sout en peper na smaak

Verhit helfte van olie en braai beesvleisblokkies bietjie vir bietjie tot bruin.  Hou eenkant.
Verhit die res van die olie, soteer uie, stingeluie en soetrissies daarin. 
Voeg sampioene by en soteer tot goudbruin.
Voeg beesvleisblokkies by groentemengsel.
Los beesvleisaftrekselblokkies op in verhitte rooi wyn.  Voeg tamatiepasta, blatjang en lourierblare by.  Giet oor groentemengsel.
Geur met roosmaryn, sout en peper.
Verlaag hitte, prut tot vleisblokkies sag is en sous lekker dik.

Groenbone kasserol

1 medium eiervrug, in ringe gesny
50ml olie
2 uie, grof gekap
2 groen soetrissies, grof gekap
5 knoffelhuisies, gekneus
1kg jong groenbone, stingels verwyder
5 tamaties ontvel en grof gekap
10ml droe origanum
4 lourierblare
20ml bruinsuiker
sout en peper na smaak
50g fetakaas, in blokkies gesny

Sprinkel sout oor eiervrugskywe, plaas in vergiettes en laat staan vir 30 minute.  Druk droog met handdoekpapier.Verhit 25ml olie in groot pan en soteer ui, soetrissie en knoffel tot sag.  Skep uit.
Voeg ander 25ml olie in pan en soteer eiervrugskywe tot bruin.  Voeg uiemengsel, groenbone, tamaties, geurmiddels en bietjie water by, prut stadig tot groenbone sag is.  Roer af en toe.  Haal lourierblare uit.
Skep in opdienbak/oondskottel.  Plaas fetakaas blokkies bo-op en verhit vir nog 5 minute voor opdiening

Hoender in coke

1 kg hoenderstukke

MARINADE
60ml sojasous
60ml bruinsuiker
30ml bruin asyn
sout en peper na smaak
340ml blikkie Coke
Roosmaryn takkie of enige vars kruie

Meng marinade bestanddele saam en gooi oor hoenderstukke.  Laat staan minstens een uur in yskas.
Plaas hoender in swaarboomkastrol en kook vir 45 minute.  Draai hoender gereeld om.
Skep die meeste van die sous af en braai die hoenderstukke in laaste bietjie marinade tot goudbruin.
Indien jy sous by 'n stysel wil he, verdik vloeistof wat afgeskep is met bietjie mielieblom




piesang maalvleis gebak

MAALVLEIS    6 - 8 persone
2 eiervrugte, in cm ringe gesny
1kg maalvleis
2 uie, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
30ml kerriepoeier
60ml koekmeelblom
60ml tamatiepuree
60ml blatjang
60ml worcestersous
300ml vleisaftreksel (gebruik een oxo blokkie)
2 piesangs, in skywe gesny
5ml sout

BOLAAG
300ml piesang joghurt
2 eiers, geklits
60ml koekmeelblom
3ml borrie
3ml kerriepoeier

Strooi sout oor eiervrug skywe.  Laat 30 minute staan in vergiettes of afkoelrak.  Maak droog met handdoekpapier en sny in cm blokkies.
Verhit oond tot 180 grade
Braai maalvleis tot gaar en skep uit.  Soteer uie en knoffel tot sag.  Voeg eiervrug blokkies en kerriepoeier by.  Roerbraai nog 'n minuut lank.  Strooi koekmeelblom oor en meng liggies.  Voeg maalvleis en res van bestanddele by.  Prut sowat 5 minute.  Skep in oondbak.
Meng al die bestanddele vir die bolaag goed saam en giet oor vleis.  Bak 30 minute lank of tot gaar en gestol.




week 23 Januarie tot 29 Januarie 2012

Maandag 23 Januarie
Piesang maalvleis gebak *
Rys
Ertjies
Mengslaai: roket, tamaties, soetrissie en uit (als uit my tuin)

Dinsdag 24 Januarie
Hoender in coke *
Rys
Groenbone kasserol *
Wortelslaai

Woensdag 25 Januarie
Kleurryke ghoelash *
Rys
Spinasie en aartappelgereg *
Beetslaai

Donderdag 26 Januarie
Frikkadelle *
Kapokaartappels
Mielies
Piesang, appel, rooi uie en growwe maaskaas slaai

Vrydag 27 Januarie
Vis *
Rys
Gebakte eiervrug
Koperpennie wortelslaai *

Saterdag 28 Januarie
Portugese eiers vir middagete *

Braai hoenders
Botterskorsie *
Bessie joghurt nagereg *

Sondag 29 Januarie
Oorskiet uit vrieskas
Rys
Witbone slaai *

* resep verskaf

Ons eet net bruinrys

Sunday, 15 January 2012

resepte

Vakansieslaai 6 - 8 persone

1 x 410g perskeskywe
1 x 410g pynappelskywe
1 x 400g fles wit piekeluie
1 x 410g blik gebakte bone in tamatiesous

SOUS
15ml suiker
15ml matige kerriepoeier
50ml appelkooskonfyt
15ml mielieblom
'n paar druppels tabasco sous indien verkies

Dreineer perske en pynappelskywe, maar behou stroop.
Dreineer uitjies en behou vloeistof.
Sny perske en pynappel skywe in blokkies en meng met die boontjies.
Sny die uitjies in kwarte en voeg by.
Meng die vrugtestroop en die uit se vloeistof in 'n kastrol.  Roer die suiker en kerriepoeier by.  Voeg die appelkooskonfyt by en verhit tot kookpunt.
Meng die mielieblom met 'n bietjie water en roer by die mengsel sodra dit kook.
Roer tot die sous verdik en haal dit van die stoof af.
Geur met tabasco sous en giet oor die vrugtemengsel.
Meng goed deur en verkoel tot benodig.
Slaai hou goed in lugdigte houer in koelkas

resepte

Gevulde skorsies
4 - 6 mense

100ml rou rys
900g / 6 skorsies
25ml olie
1 ui, grof gekap
1 knoffelhuisie, gekneus
1 stingel seldery, in ringe gesny
37,5ml haselneute, grof gekap
37,5ml gedreineerde pitmielies
sout, peper, paprika
80ml gerasperde cheddarkaas

BOTTER
100ml botter
75ml haselneute, grof gekap
skil van halwe suurlemoen

Skakel roosterelement van oond aan
Kook rys tot gaar en dreineer
Sny stingels van skorsies af en halveer.  Skep pitte uit en kook in soutwater tot net gaar.  Dreineer en plaas op bakplaat.
Verhit olie in vlak pan.  Soteer ui, knoffel en seldery daarin tot sag. 
Voeg haselneute by en braai ongeveer 1 minuut.
Verwyder van hitte, voeg rys, pitmielies en geurmiddels by.  Meng goed.
Skep vulsel in holtes van skorsies en besprinkel met kaas. 
Plaas onder roosterelement en rooster totdat kaas gesmelt is.

Plaas die botter, neute en suurlemoenskil in kastrol.  Verhit oor lae hitte tot botter gesmelt is.  Giet oor skorsies en dien op.

Gesinskommentaar volg



resepte

Meksikaanse hoender
6 persone

1.5kg hoenderporsies
sout en peper
25ml olie
2 uie, in ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyn gekap
1 groen soetrissie, in repe gesny
halwe rooi soetrissie, in repe gesny
12,5ml botter
30ml koekmeelblom
25ml tamatiepasta
12,5 ml druiwe asyn
250ml hoenderaftreksel
250ml mediumroomsjerrie
50ml rosyntjies, geweek
15 swart of groen gevulde olywe

Voorverhit oond tot 180 C  Smeer oondvaste bak met botter.
Geur die hoenderporsies goed met sout en peper.  Braai in die verhitte olie tot bruin.
Verwyder uit pan en pak in die oondskottel.
Soteer die uie, knoffel, groen en rooi soetrissie in die olie tot sag.
Skep oor die hoenderporsies.
Voeg 12,5ml botter by die olie in pan en smelt.  Verwyder van die hitte en roer die koekmeelblom by.  Roer tot 'n gladde pasta. 
Voeg die tamatiepasta, druiweasyn en hoenderaftreksel by en meng goed.
Verhit, terwyl gedurig geroer word, totdat die mengsel kook.
Voeg die sjerrie by en bring weer tot kookpunt.
Voeg die rosyntjies by en giet oor hoender.
Bedek en bak  ongeveer 30 minute lank totdat hoender sag is. 
Voeg olywe ongeveer 10 minute voor die einde van die baktyd by.

Baie lekker vir my gesin






resepte

Potgebraaide skaapboud
6 porsies

10ml gemaalde koljander
10ml paprika
2.5ml gemaalde gemmer
2 knoffelhuisies, gekneus
sap van 1 suurlemoen
45ml olyfolie
15ml botter
1,5kg skaapboud
sout en varsgemaalde swartpeper
2 wortels, in skyfies gesny
1 ui, gekap
2 seldery stingels, gekap
125ml rooiwyn
250ml vleisaftreksel
5ml tamatiepasta
mielieblom om sous te verdik

Meng speserye met knoffel, sap en 15ml van olyfolie en smeer die mengsel oraloor die vleis.  Bedek en plaas oornag in die yskas.
Verhit die orige olie en botter in 'n swaarboomkastrol.  Verbruin die boud alkante en haal uit.
Soteer die wortels, ui en seldery tot die ui sag is en verlaag die hitte.
Sit die vleis bo-op die groente en voeg die wyn, aftreksel en pasta by.  Geur na smaak en sit die deksel op.
Potbraai die vleis oor lae hitte vir 80 minute of tot die vleis gaar is na smaak.  Haal vleis uit, verdik sous met mielieblom wat eers met bietjie water gemeng is.  Geur sous na smaak

Eks opgewonde oor hierdie resep.  Sal kommentaar van gesin publiseer

resepte

Murgpampoen kasserol
4 - 6 mense

250g murgpampoentjies in 1cm skywe gesny
37,5ml botter
2 gekneusde knoffelhuisies
1 x 410g gesnyde tamaties
10ml suiker
sout en peper
250ml suurroom
250ml sagte bruinbroodkrummels
5ml paprika
12,5ml amandel, fyn gekap
125ml gerasperde cheddar kaas

Voorverhit oond tot 180 C
Soteer murgpampoentjies in 20ml van botter tot bruin aan albei kante.  Verwyder uit pan, pak in gesmeerde oondvaste bak.
Plaas orige botter in pan en soteer knoffel daarin.
Voeg die tamaties by en soteer nog 'n paar minute.  Geur met suiker, sout en peper. 
Voeg die suurroom, krummels, paprika en amandels by.  Prut 5 minute totdat sous lekker dik is.
Skep oor murgpampoentjies en strooi kaas bo-oor.
Bak totdat kaas gesmelt is en gereg deurgaar is

Hierdie resep het ek nog nie gemaak nie.  Gesinskommentaar volg

Resepte

Skelvis met krummelkors
4 - 6 mense

800g bevrore skelvis
sap van halwe suurlemoen
sout
swartpeper
fyn koljander
1 klein ui, fyn gekap
500ml sagte witbroodkrummels
125ml gerasperde cheddarkaas
12,5ml fyn gekapte pietersielie
30ml botter, gesmelt

Voorverhit oond tot 180 C
Verwyder vel van vis en plaas in 'n oondvaste bak.  Geur vis met suurlemoensap, sout, peper en koljander.  Sprinkel gekapte ui oor.
Meng broodkrummels, kaas, pietersielie en botter saam en sprinkel oor vis.
Plaas in oond en bak 30 - 40 minute lank totdat krummelkors mooi goudbruin is en vis gaar.

Baie lekker

resepte

Koue koejawel nagereg
6 mense

1 x 410g blik koejawels
15ml mielieblom (maizena)
125ml suurlemoensap
1 x 385g blik kondensmelk
250g roomkaas
250ml room
1 x 200g pakkie tennisbeskuitjies

Dreineer koejawels maar behou stroop.  Sny die koejawels in klein stukkies en verhit dit saam met die stroop net tot kookpunt.
Meng die mielieblom met 'n bietjie water tot 'n pasta en roer dit by die koejawels in.  Prut vir 'n paar minute tot dik en laat afkoel.
Roer die suurlemoensap (ek verkies vars uitgedrukte suurlemoensap) by die kondensmelk tot die verdik.  Klits die roomkaas liggies en klits dit dan by die kondensmelk in.
Klits die room met 'n skoon klitser tot sagte punte vorm.
Vou die helfte van die room by die roomkaas mengsel in.  Skep 'n derde van die koekiekrummels in 'n glasbak en smeer die helfte van die roomkaasmengsel egalig bo-oor.
Skep die helfte van die afgekoelde koejawels bo-op en strooi nog 'n derde van die krummels oor.  Herhaal die lae met die orige roomkaasmengsel, koejawels en krummels.
Skep die orige room bo-op en verkoel dit tot gestol

Hierdie resep het ek nog nie gemaak nie, dus het ek geen kommentaar van my gesin.  Sodra ons dit ge eet het sal ek die kommentaar publiseer

resepte

Groenbone met eiersuursous
Genoeg vir 6 mense

750g groenbone, stingels verwyder
2 ekstra groot eiers, geklits
80 ml suiker
knippie sout
100 ml druiwe asyn
50 ml water
1 hardgekookte eier

Kook die groenbone in 'n klein hoeveelheid kokende soutwater tot net gaar.  Dreineer en hou warm.

Meng die eiers, suiker, sout, druiwe asyn en water.  Verhit oor kookwater terwyl gedurig geroer word totdat die sous verdik.

Skep die groenbone in 'n warm groenteskottel.  Giet die sous oor.  Rasper die hardgekookte eier oor.

Gereg kan koud of warm bedien word

resepte

Moussaka
Genoeg vir 6 mense

EIERVRUGTE
4 eiervrugte, geskil en in 1cm skywe gesny
sout
125ml olie

MAALVLEIS
2 uie, in ringe gesny
olie
1kg maer maalvleis
50ml tamatie pasta
150ml wit wyn
125ml water
1ml neutmuskaat (nutmeg)
50ml fyn gekapte pietersielie
sout
peper

SOUS
50ml botter
50ml koekmeelblom
500ml melk
2 ekstra groot eiers, geklits
2ml neutmuskaat

2 - 3 groot tamaties, ontvel en in skywe gesny
50ml droe broodkrummels
50ml gerasperde cheddar kaas

Strooi sout oor die eiervrug en pak in 'n vergiettes.  Laat staan minstens 30 minute lank.  Spoel af onder water, druk droog met handdoekpapier.  Soteer die eiervrugskywe in olie tot sag en ligbruin.  Hou eenkant.

Voorverhit oond tot 180 C.  Smeer 26cm oondbak met botter.

Soteer die uie in olie in die pan tot sag.  Voeg die maalvleis bietjie vir bietjie by en braai tot ligbruin.  Meng die tamatiepasta, wit wyn en water en voeg by maalvleis.  Geur met neutmuskaat, pietersielie en sout en peper.  Verlaag hitte en prut tot die meeste vloeistof verdamp het.

Smelt die botter in 'n kastrol.  Voeg die meelblom by en meng tot 'n gladde pasta.  Voeg die melk stadig by, geur met sout en peper en meng goed.  Verhit, terwyl gedurig geroer word totdat die kook.   Verwyder van hitte en roer die eier en neutmuskaat by.

Pak helfte van eiervrug onderin die bak.  Vervolg met helfte van maalvleis.  Pak die tamatie skywe bo-op en skep die oorblywende maalvleis oor.  Pak nou ander helfte van eiervrug op en giet sous oor.  Meng die broodkrummels en die kaas en strooi oor.  Bak ongeveer 30 minute lank tot ligbruin van bo.

Hierdie moussaka is baie lekker maar ryk.

Indien iets oorbly vries ek dit baie suksesvol in foelie bakkies




spyskaart

Maandag 16 Januarie 2012
Hoender Masala p 71 Spogresepte
Rys
Liggebraaide aartappels
Ertjies
Wortelslaai

Dinsdag 17 Januarie 2012
Moussaka p 52 HG 4  (HG is Huisgenoot Wenresepte)
Rys
Groenbone met eiersuursous p 92 HG 4
Gems
Koue koejawel nagereg p 126 Spogresepte

Woensdag 18 Januarie 2012
Skelvis met krummelkors p 78 HG 4
Rys
Murgpampoen kasserol p 90 HG 4
Komkommerslaai met asyn

Donderdag 19 Januarie 2012
Potgebraaide skaapboud p 100 Spogresepte
Rys
Spinasie
Koolslaai

Vrydag 20 Januarie 2012
Meksikaanse hoender p 54 HG 4
Rys
Boontjies
Gevulde skorsies p 90 HG 4
Beetslaai

Saterdag 21 Januarie 2012
Middagete:
Gebakte eiers
Skaapworsies
Brood

Beeskookvleis
Rys
Vakansie slaai p 19 Spogresepte

Sondag 22 Januarie 2012
Piesang maalvleis gebak p 124 HG 6
Rys
Ertjies
Tamatie, soetrissie en uie slaai

Hoender Masala


6 - 8 porsies

Koekmeel
Sout en varsgemaalde swartpeper
12 hoenderporsies
Olyfolie en botter om in te braai
2 groot uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
2 Granny Smith appels, geskil, ontpit en in blokkies gesny
250ml hoender aftreksel
10ml masala of matige kerriepoeier
30 ml appelkooskonfyt

Voorverhit die oond tot 180C
Geur die meel met sout en peper en bedek die hoenderporsies daarmee.  Skud die oortollige meel af.
Verhit gelyke hoeveelhede olie en botter in 'n braaipan en braai die hoender alkant goudbruin, maar nie gaar nie.  Plaas dit in 'n groot oondbak.
Soteer die uie in dieselfde pan tot goudbruin en skep dit oor die hoender.
Strooi die appels bo oor.  Meng die aftreksel, masala en konfyt en giet dit oor.
Bedek die bak met foelie en stowe die hoender vir 30 minute.  Verwyder die foelie en stowe nog 10 tot 15 minute of tot die hoender sag is en die sous effens verdik het.